Die 70 koshuisgangers van Huis Dagbreek het die laaste kwartaal van 2017 op ‘n hoë noot afgeskop met hulle jaar afsluiting wat op Maandag 9 Oktober plaasgevind het. Die eetsaal in die koshuis is vrolik versier volgens die “Gatsby” tema. Voor die kinders kon begin jol en dans, is hulle eers heerlik bederf met ‘n smaaklike steak ete en boonop wafel en roomys vir nagereg ook! Daar is afskeid geneem van die 5 matrieks, Henry Stander, Esté Schoombee, Charlotte Müller, Christine Vorster en Gustav Schoonwinkel wat vir etlike jare koshuisgangers was. Die nuwe koshuisprefekte vir 2018 is ook aangewys. Die hoofleiers is Theo Burger en Ammie Donian! Wessel Jordaan, Reinhardt Pelser, Karla Schoonwinkel en Marina Meyer is die ander koshuisprefekte van Huis Dagbreek. Die kinders by Huis Dagbreek geniet die veilige omgewing en groot speelterrein, asook toesig en heerlike etes by die koshuis. Hulle sien reeds uit na die nuwe inkomelinge wat 2018 by hulle gaan aansluit as deel van die groot koshuis-familie!!
Huis Dagbreek 2017
Huis Dagbreek 2016
Tydens Huis Dagbreek se Koshuis afsluiting vir 2016 het die personeel en koshuisgangers dit gevier met ‘n buitengewone piekniek… Anders as ander jare was die eetsaal slegs gereserveer vir die Sokkie en is die ruimte langs die koshuis aangewend vir ‘n heerlike vinger ete met lanterns, liggies en vlaggies in die bome. In die foto hoekie het ‘n onbekende “brunet” al die koshuisgangers ingewag vir ‘n “Model-kursus & Photoshoot”.
Tydens die geleentheid is 2017 se Koshuisprefekte as volg aangewys: Henry Stander & Estè Schoombee (hoofleiers), Gustav Schoonwinkel, Theo Burger, Christine Vorster en Charlotte Müller.
Huis Dagbreek 2015
Karel Theron en Middelburg Hoërskool se koshuis, Huis Dagbreek, het die kwartaal op ‘n hoë noot begin met die Graad 12 – Afskeidsfunksie op Maandag 12 Oktober.
Die eetsaal en foto-hoekie was pragtig opgemaak en die koshuis-inwoners het ‘n heerlike driegang maaltyd geniet. Afskeid is geneem van die uitgaande Graad 12 –leerlinge wat hul laaste kwartaal as koshuisinwoners met ons deel.
Tydens die funksie is die koshuisprefekte vir 2016 ook aangekondig. Hulle is as volg:
Seuns:
JR du Preez (Hoofseun)
Gustav Schoonwinkel
Henry Stander
Dogters:
Esté Schoombee (Hoofdogter)
Charlotte Muller
Hanje du Plessis
Christine Vorster
Baie geluk aan die nuwe prefekte en baie sterkte met die groot taak wat vir julle wag.
Die aand is afgesluit met ‘n heerlike sokkie wat deur ieder en elk geniet is.
Ons bedank graag die Koshuisvader, Mnr Johan Allers en sy personeel vir die wyse waarop hulle die koshuisgangers so tuis en veilig laat voel hier in Middelburg. Huis Dagbreek is verseker ‘n 2e tuiste vir al ons koshuiskinders!
Die middag van Donderdag, 19 November 2015, het die koshuis ‘n springkasteel en ‘n “slippy slide” vir die koshuis leerders aangebied. Dit was ‘n warm dag en die leerders het die koue water baie geniet. Met die gebeure het hul volgende jaar se Gr 1’s welkom geheet. Dit was verseker ‘n dag om te onthou.